KOSIE

Sewejarige seun se hand geamputeer ná hy bomklapper in die hande kry.

NIE VIR SENSITIEWE LESERS.

“Mammie, kyk my hand is weg.”

Met dié bebloede handjie en ’n vinger wat aan ’n stukkie hang het die sewejarige Kosie Wessels na sy ma, Caroline Strydom gehardloop nadat hy ’n bomklapper in sy ousus se kamer gekry en dit aan die brand gesteek het. Die klapper het in sy hand ontplof.

Caroline, wat in Polokwane woon, was saterdag besig om haar huis skoon te maak.

Sy het gedink Kosie speel iewers in die huis. Wat sy nie geweet het nie, was dat Kosie in sy suster se kamer ingeglip het. Dié kamer is gewoonlik gesluit, maar omdat Caroline huis skoongemaak het, was dit oopgelos dat sy daar ook kan skoonmaak.

Kosie het die klapper in sy suster se kamer gekry.

“Ek het net ’n helse slag gehoor,” sê Caroline.

“Toe ek weer sien kom Kosie na my toe aan gehardloop en sê ‘kyk mammie, my hand is weg’.

“Ek het my hemp uitgetrek en dit om sy hand gedraai. Ek het in die straat gehardloop en geskree ‘help, help’.

“ ’n Vreemde man het stilgehou. Ek het hom gevra of hy nie met my en my kind kan hospitaal toe jaag nie. My kind het seergekry. Hy het ons in die motor ingelaai en met noodligte en toeter na die hospitaal toe gevat.”

By die hospitaal het dokters vir Caroline die slegte nuus gegee dat Kosie se linkerhand geamputeer moet word. Nie eens die een vinger wat nog aan ’n stukkie vlees gehang het, kon gered word nie.

Kosie het brandwonde oor sy hele lyfie gehad.

“Hy het baie pyn gehad en heeltyd gehuil"

Hy wou nie hê die dokters moet die verbande afhaal nie, want hy wil nie sy handjie sien nie. Hy het my gevra of Liewe Jesus vir hom ’n ander handjie gaan gee.

“Elke keer as ek my oë toemaak, sien ek die hand wat weg is en die vleis en die weefsel.”

By die hospitaal wou hul nie hê Caroline moes oorslaap by Kosie nie.

Die ontploffing was so erg, die vleis & bloed was teen die plafon, mure, gordyne en venster.

Caroline is ’n enkelouer en het nie mediese fonds nie. Dis waar Child Medi van die storie gehoor het, en begin fondse insamel om Kosie te help.

Child Medi Organisasie het gereël vir oorplasing na n privaat Hospitaal vir beter mediese aandag....

Child Medi het dan ook die hele herstel proses wat terugslae ingesluit het gehanteer. Met fondse wat ingesamel is, het Child Medi dan ook vir hom n kunshandjie laat maak.

Hy moes ook geleer word hoe om dit te gebruik. Child Medi sal steeds by hom staan, want namate hy groei sal daar gereeld aanpassings moet wees.

Dankie vir almal wat bygedrae het.